In gelykenisse
bring die mens sy wêreld tot stand,
brei hy na buite uit:
eers homself ín homself
(die voet lyk mos op die hand),
en daarna word die heinings in pale voortgeplant.
Die blinkertjies wat hy pis
om sy reis aan te dui, of in die bome hang
om sy perk af te merk,
weerspieël naderhand mekaar
soos 'n skool visse sigself,
sou dit oor die aarde loop:
Dis moeilik om te sê waar die oorsprong lê.
Hier kom die wiel,
loshande,
soos die seisoene wat nooit ophou aanrol nie,
in vier kwarte opgedeel soos buurmanne
wat mekaar nodig het, en dus van die siel,
by verstek, 'n simbool is.
En die gode uit die bergstroom getap
en oorgeskink
in volkome ongelyke en klingelende emmers,
wel, dís mos iets wat 'n verklaring kan bied
vir ongemaklike dinge.
Voortaan sal 'n kwatryn
volgens voorskrif van Bo
met let-ter-gre-pe ploeë,
en vier sye hê nes 'n dorpsplein.
En die tweeledige koeplet?
Dis 'n bok wat nog sy horings het
maar hom darem kan gedra
en deeglik hou by die burgerwet.
Die ritmes
van opgediepte Romeinse en Griekse teaters
het moeilik gerym
met "windmeulens", "unie" en "bond";
was wel verstaanbaar:
Voeg net water
terstond by
en sit die baksels in die son, verdomp.
Die reëlmaat en funksie van gedigte
(dryftuigies met vane, wimpels-met-kielsuig)
het verander toe dit na Afrika gekom het.
(Siestog, 'n verskeepding genaamd die villanelle -
vyf spane links uit die Pentateug
en vier regs genoem die evangelies
- God! alewig die getel -
hoe hinkepink het die mensdom
oor die waters geloop, mens kon sweer
dit was geloof.)
Die epos, 'n ossewa
wat in die ou dae die kosmandjie huis toe gebring het,
was op die nuwe vasteland 'n stamelkas
wat op bergriwwe strand,
en moes aangepas word.
Wildernis, bosse, die onmeetlike. Daar word lukraak van afgekap. Wa-
wag. Lyk my hier's bietjie deurgetraptheid, ja-
ja: 'n paadjie
en pale met maskers op
langsaan geplant. Wat beteken dit? Goddank,
'n ooptetjie en,
jou werklikwaar (gerugte al gehoor),
die gevaarlike stank: 'n giftige, vleisetende,
lieflike
inheemsblom,
en wat is dit wat daar uitsteek - bo die kroonfrille -
voorwaar
my eie kop
...
Read full text