'N KRAAK IN DIE PLEISTER Poem by Charl-Pierre Naudé

'N KRAAK IN DIE PLEISTER

- Middellande, van Natal sowel as elders
Om oor God te dink
moet mens dalk vergeet
van die groot waarheidskoepel
of die omvattende wand wat alles omsluit.

Beter om te soek
na die wink
van die klein-klein skeur
in 'n rotsformasie of diep in die brein,
waardeur lig van binne af ánders deurskyn.

Die ligte
wat sonderling en oombliklik verdwyn op water,

of die senuhaartjie in 'n binneoor,
een van die tallose
wat net-net nog lewe in 'n lyk,

bevat dalk 'n bepaalde soort ewigheid
wat groter as die heelal
en bepaald ánders goddelik
en bestaansgewys verwikkel is
as die aardbol,

wánt binne-in sy eie matesis.
Élke flitswêreld het sy grootse katedrale.

Elke dwarrelbries dra sy blare
soos die matte van 'n ou beskawing.

Die singende luik wat oopmaak op onvatbare tesisse
is die pas verbleikte verledetydkeuse.

Om (byvoorbeeld) te kies
vir die wonder
om met minder omring te word:
Dis jou verjaardag, en jou geskenk is
een ding minus, wat die somtotaal
van een meer is.
Jy kan nie wág vir die herfs nie
as die bloeisels uit die knop breek;
en jy sien uit dat niemand kom kuier nie
sodat dae wat onvergeetlik was, onbelangrik kan bly.
Om nie vooruit te gaan nie,
uit liefde daarvoor!

Die deurtjie verbloem
agter die skildery wat nog ongeskilderd is
maak oop op 'n trapstel
wat oploop na 'n praalkamer waarin minder
as niks is, jy moet dit net vind -
wat daar is
net vir joú om die rame op die veelkleurige mis
molekules
(gasruimteskepe)
oop te gooi teen 'n onverwagte skuinshoek
sodat protone en elektrone kan inswerm en plons
en aanklots soos vlermuise, soos waansinnige pluimbalballe
opgeskud uit die ademend deinende, vlooibespikkelde vangnet-
met-sterre buite jou venster.
En dis maar een
van vele heelalle uit die einderlose na binne
en buite werwelende patrone

op God se mou; nee 'n baie klein mougod sélf,
wat aankom uit die wapperende klusters pouoë
van wandelende Paisley
en kolkende wolkestelsels

in die domein van die ongedinkte.

Ek onthou nie meer
hoe ek deur die kier geglip het nie,
deur 'n kraak in die pleister;
of 'n wêreld deur rook gesien het, waarin alles seismies swem
soos van voor ons dit tot vastigheid gedink het -

kriewelklein is die mens
en sy vertolkings
op 'n handpalmgrootte stukkie eindeloosheid;
op 'n weerkaatste ruitjie
skaats hy deur die ruimte.

Ek stap toe deur 'n woud spierwit berke,
tydloos versteen in 'n dooiewinter;
en die enigste monoliet
wat nie groter as die ander was nie
en dus die grootste,
is Niegod genoem;

al vier seisoene was gelyktydig aanwesig:
kaalkeiserskille wat voortdurend
in die naam van die weifelende lig vervang word
en oor 'n hele dooie aarde strek

terwyl die sjibbolet - volstrek die enigste
(dus wat nie lote maak nie)
wat 'n gees tot hierdie namaals kon toelaat -
Takbok! was.

'n Waas muggies dans in die somerskemer op 'n stoep,
'n kolletjiesproei
wat homself in vorme hekel;

daar hang dit oor die rietjiestoel
soos 'n ou man wat opstaan,

en daar oor die koel plaveisel "stap" dit
soos 'n jong ma wat haar babatjie sus.
Dit warrel in die gestalte van Ovidius,

en vervloei tot 'n boom, 'n voëltjie,
of 'n godheid met 'n boodskap.

Die muur met sy ingemesselde rivierklip
loop lui langs die mirt, soos 'n gekolde luiperd.

God, mens, ding:
wolke wat voortbeweeg teen verskillende spoed.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success