Daar trek 'n windjie oor die baaidorp
en die weiwolke in die noordweste
word in 'n drukgang gejaag.
Onopsigtelik is dit,
hoe die boodskappe aanmeld,
van die uitwis wat kom.
Allereers, net geluid: ver windgeruis
en die angstige gekletter van voëltjies by 'n bak,
die tink-tink van 'n stukkie metaal.
'n Fietsklokkie in 'n binnehoffie,
gestreel deur die bries,
kla sag
soos 'n baba se rammeltjie
in die beskutting van 'n hals.
En skielik
is die son weg. En alle kleur word flets.
Die wind vlei sterker aan, nukkerig. Smyt
'n mandjie spatsels, uit die bessieboom gestroop,
teen 'n muur vol ou vlekke uit.
En die groot hond gaan lê plat
en ootmoedig, bidsnoet op die grond,
soos 'n sprinkaan.
Dan kom die reën, skielik,
in opgeskrikte vlae
wat die vlees kasty soos klitsgras.
En daai orkes is ook hier, wat in dinge slaap;
subatomies, én omvattend.
Kineties besielde Von Karajan'tjies
ontwaak soos baboesjkapoppies
in die ruimteskippies
van die rondbliksemende akkertjies.
Met en 'n donderslag
val 'n klavier uit 'n boom
en lê die houtsparre oral rond.
Dit reën. So moeilik om reën te beskryf.
Omdat reën verbygaan? Omdat mens
daardéúr kan sien? Miskien altwee.
Maar ek kan probeer.
Die berging van herinnerings.
Die volgende onthou ek: hoe ek staan op die rand
van 'n vallei wat voormalig 'n opgaardam was,
en sedertdien drooggeloop is.
En, skaars sigbaar, daar vér onder
is die hopie klip van 'n vervloë huis
en die duidelike omtrek van 'n buitemuur.
En klippe, ingemessel teen die oorkantste helling,
sê: God seën.
Mens kan probeer:
Vannag sal die reën om ons flapper
soos die muskietnette van Neptunus
in die stroom van die vergetelheid.
'n Gróót verhaal, van gode en mense, gaan sterf
want dit word deur die tye aan flarde geslaan.
En die somer het nog skaars begin...
In chaos word geskep
en in ligtende chaos herskep.
Nou stormreën dit. Reg voor háár,
op die oumensoord se stoep,
Tant Min van die plaas
wat nie meer bestaan nie,
wat die vlieënde pierings in die laatmiddag soms sien
as tyd en tydloosheid saam
uit die hand van die Here val,
tol drie wasskottels met eende op geverf
met 'n geskal in die straat verby,
gelig uit 'n tuin
en meedoënloos daar uitgejaag
deur die musiek van die sfere.
This poem has not been translated into any other language yet.
I would like to translate this poem