Saturday, November 3, 2018

DIE ONBAATSUGTIGE Comments

Rating: 0.0

Die voormalige SAW-lid is deesdae 'n huursoldaat
en dus goed toegerus om by wyse van spreke
dieselfde saak van twee kante te benader.
"Dit was einde van die reënseisoen in Mosambiek,"
vertel hy, op die hoë plato waar hy nou veediewe jag.
"Bleek gordyne water het nog af en toe uitgesak;
die vernietigendste fase van die oorlog was afgelope.
Sagte rompe van die uitgeroeide bos en van mense ook
het in die klam grond en moeraslande lê en gis . . . "
'n Sweempie verrrukking, miskien ootmoed, in sy stem.
" . . . Ek was op roetinepatrollie
in 'n verlate gebied
toe ons op 'n eensame figuur langs die pad afkom.
Hy was haastig en vasbeslote op pad iewers heen,
'n kalbas of iets dergeliks wat bengel aan sy arm
en het sy hande liggies voor sy gesig geskommel
elke nou en dan, en in sy palms geblaas.
Tog is dit nooit in die jaar daar koud nie;
asof hy stop, en met 'n dobbelsteentjie speel
om 'n rukkie te rus op 'n baie lang sending.
Op sy rug: 'n sinkplaat; 'n koker houtjies.
In die verbyry het dit gelyk hy prewel by homself,
en onbewus van ander
skielik op sy knieë val.
Die oorlog het vele vorms van waansin geskep . . .
'n Oomblik later loop hy verder, meer verbete,
in die verte weer op sy knieë, toe ek vlugtig terugkyk.
Een van die ouens in die pantservoertuig het haastig die kruis
geslaan in aanskoue van wat lyk na Ave Marias:
die wyses van 'n bestemming bereik, is bra beperk . . .
Twee dae later op die terugpad kom ons hom weer teë,
vyftig kilometer noord van die eerste ontmoeting.
Ek het gewonder van hoe ver suid hy kom;
met wie hy so knaend en so liefdevol gesels
in die oopknip-medaljon van sy hande.
Sy liefling?
Vele het in die oorlog ál hul geliefdes verloor.
Ek onthou hom in sy spore vassteek, om die lug in sy palms te wieg,
miskien 'n klein diertjie, dag ek, 'n marmotjie, eers in sy kruis
en toe in 'n oksel te koester, teen 'n skielike opwaai van die bries.
Ek het nader gestaan, na waar hy hurk in die kruispad;
hom ‘Amper daar, amper daar' hoor fluister
in sy bakgemaakte hande. Ek maak uit van sy taal.
Hy't doodbang gelyk toe ek langs hom kom staan.
Die locals vermy soldate en praat nie eintlik met hulle nie.
Die ander in die Unimog het vir die malle gegrinnik.
Toe vra ek hom om my te wys wat in sy hande is.
Hy't sy geëelte palms huiwerig uitgehou.
Dit was 'n brandende kool.
In sy verwoeste nedersetting was nie meer vuur nie
en die lot het op hom geval om dit te gaan haal
in die naaste buurdorp, tagtig kilometer ver.
Hy het koeëls getroef en sy lewe gewaag om die gevlerkte vlamkuiken
van 'n ingestorte kroonlys af te skep, in 'n kerk wat onder skoot gekom het.
Snags sou hy rus, 'n vuurtjie maak; die môre weer verder
met die beste kole in sy erdepotjie,
en saans die skof eindig met enkele kooltjies
wat hy een-een aanblaas, en lig uit 'n jakkie as.
Dit het hy aan my gebieg, in 'n vreesbevange toon
met 'n verslane blik, soos voor 'n militêre ondervraer.
En ek kon my voorstel hoe hy wakker slaap, opgekrul
langs sy ademende toevertroueling in haar windsels eie gloed,
verlief op die vraggie bene in haar toornige nagrokkie.
Ek het hom voorspoed toegewens en sy skouer 'n drukkie gegee
terwyl hy weer in sy hande blaas,
die wieke instoot onder
sy klein godin, die kosbare troeteldier: Prometeus se vuur."
...
Read full text

Charl-Pierre Naudé
COMMENTS
Close
Error Success