Die aard van verstaan Poem by Charl-Pierre Naudé

Die aard van verstaan

Daardie week was daar verskeie berigte oor vlieënde pierings,
en auroras uit die onsigbare heelal.
Ek het in my motor gery, verby 'n ongewone kerkritueel,
terwyl reën neer sis op die skerwe van 'n skemer.
Die mans het sluiers gedra, buiten twee wat inwyding ondergaan;
'n koortjie verrukte vroue aan die kant van die pad.
Die sekte was vir my onbekend, 'n vreemde mengsel van Afrika en die Weste.
Die gemaskerde mans het die swetende en huilende nuwelinge
driftig aangepor in die rigting van die altaar, en die nuwe lewe wat op hul wag.
Hulle het soos eende gewaggel, blind van begeestering, vooruit
die veld in en biddend op hul knieë neergeval. Twee skote het weerklink.
Ek het pas 'n motorkaping aanskou, en die teregstelling daarna.
Hoe moes ek weet? Daar is skaars 'n pad wat iewers heengaan,
wat nie ook in die ander rigting loop nie.
Miskien het dit te doen met hoe 'n mens waarneem.
Sommiges glo vlieënde pierings is visioene van die toekoms
of 'n hoogs ontwikkelde beskawing uit die verre verlede.
Neem byvoorbeeld die storie van die twee bruide.
Daar is die stadige bruid. 'n Enkele gebaar van haar kan drie geslagte neem.
Haar rok waai nie in wind nie, dis uitgedruk in metaal.
Ek sien hoe bult haar kant in die staalplafon bo my bed.
En die vinnige bruid, ter plaatse uit die pakkie, nat voor die seremonie eindig.
Sy het 'n lang wit sleep en die nederige naam toiletpapier.
Miskien word alles bepaal deur ons siening van tyd.
En as iemand meen ek was 'n swak getuie, dink maar aan besnyding
of die maagdeoffers. Die vinnige hand en die stadige hand, van God.
Ja, ek kon seker nuttiger gewees het vir die ondersoek.
Ja, ek is bly ek's nog in die land van die lewendes.
Maar om verby te gery het in 'n tyd van toekomsvisioene,
aan die regte kant van die pad, aan die goeie kant van die streep,
was om vir hulle onsigbaar te wees. Ek het eenvoudig nog nie bestaan nie.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success