My vrou staan voor haar spieëlbeeld.
Met net 'n sweem besorgdheid
kyk die een na die ander.
Die twee is op een plek
en oomblik gebore,
en sedertdien
strek dié susters vergeefs
hande na mekaar uit
oor die onverstoorbare silikonstroom
wat hul ewig skei.
Hulle staar na mekaar;
elk is die ander se pop
uit kinderjare -
op die verjaardag van elke dag
telkens weer afgelewer
in identiese bokse.
Hierdie iets-se-spieëlbeeld,
die weergawe strewende na geen-verskil,
is wat die "natuurlike" so onopsigtelik
laat vervloei tot wat bo- of onnatuurlik
of buitengewoon is.
Metastase - ánders gesien:
'n Siamese tweeling -
verskil nie veel
van die Volksraad met 'n tweede kamer nie;
of van die afgestigte staat;
en daardie burleske idee
genaamd boosheid,
is maar net
die sirkusspieël-wat-potsierlik-speel.
Dan moet mens nog uitkom
by die vernuftige dubbeldmaak-by-verstek:
die siel -
vergelykbaar met ʼn kunslong,
of ʼn driewiel.
Elke dag versamel my vrou dié skitterings
wat sy herken
as haar uitspanseltjie sterre
in haar meisiemandjie,
in haar eie spieël.
Onder 'n somerboom
maak twee seuns bessies bymekaar;
een rangskik sý versameling
tot 'n gelaat, die ander een s'n lyk
soos die houkrale van 'n plaas.
Dink net:
Jy kan dieselfde verre vrugte
- lemoentjies by die see, lemoentjies
uit die binneland -
loop pluk
in die partikeltjieboorde
van óf Jesus se kleed óf Mohammed se tulband.
Jou werklikwaar, mens kan dit
versamel vir sulke asembenemende,
uiteenlopende rankskikkings
herkenbaar as "woorde",
as dinge
of dink-samestellings.
Op die wind van buite
dryf 'n tromsolo tot binne hoorafstand …
dis 'n stippeltekening
op die oor,
en dié voorstelling spring
tot ooglikheid,
en van daar tot geestesbeeld;
van een kant gesien:
'n paleis gebou van stokke,
en ánders: 'n hemeltrans
van vervloeiende, hardkoppige gode.
Ek rig my blik op die nagtelike uitspansel
en lig my sekel gereed vir die oes:
Sterre stort ritselend
tot langs my in my konkawe smeltkroes
soos atome wat op hul klein beurt
ver uit mekaar en alchemisties
in stelsels dryf.
Dan vee ek die spikkels op ʼn hoop
en smee dit tot artefak soos ʼn ystersmid.
Uit die omringende baaierd waarin
reise in die tyd en die ruimtemeganika
saam met die mites en gelowe reik,
boetseer ek ʼn dak hier ondermaans.
My eendagspesie en ek
zoem hier soos muskiete
wat mekaar aan mekaar herinner,
onder die harnas van Athena
wat sy net 'n rukkie gelede nog neergesit het
op haar kweekgras
en ingegaan het om te gaan rus;
en so bly ons (onwetend
weens al die wemelende wetetjies)
'n huldeblyk aan die gode en godinne.
...
Read full text