Saturday, November 3, 2018

ALTER EGO Comments

Rating: 0.0

Die trappe na die solder kan my nou nog verruk.
Waar rakke raaisels uit kindsdae span en die smal,
helder luik aan die ver ent se guillotine soms val
dat vere uit die skemer sak, en die skrik

al's 'n oomblik laat skarrel, het ek weer
gestaan: geboë. Ou deure waardeur niemand stap
en verroeste rame wat nie sluit of klap nie
het eenkant gelê, kettings, reistasse wat verweer

in die geheue. Van nêrens het 'n bries gepluk
deur 'n jeugboek. By 'n vuurhoutjie se flenterlig
staar 'n skadu-gesig, vol skynroet, armoedig

na my terug uit 'n óú spieël, halfvergete.
‘Die solder spook,' het Ma gesê. Ek moes so terugkeer
na onder, 'n half-swarte, vanuit die gewete.
...
Read full text

Charl-Pierre Naudé
COMMENTS
Close
Error Success